Die Tuinier :: Editor's Letter
Maart 2020
   Die Tuinier

Ek sien altyd uit na hierdie tyd van die jaar. Daar is 'n glimp van verligting van die somerhitte, en goeiste, was dit nie warm nie! Ek het nog nooit sulke hoë temperature beleef hier by ons en ook in ander streke van Suid-Afrika nie. Dit is nou meer as ooit tevore duidelik dat ons van slim tuinmaakmetodes soos bedekking (in enige gedaante of vorm) gebruik moet maak, die regte tyd van die dag moet natmaak en moet beplan en plant deur plante te soneer. Almal gaan in 2020 baie meer hiervan hoor, en ek is nou van mening dat dit die nuwe normaal is.

Met water wat die belangrikste vir tuinmaak is, het ek aan die begin van die jaar die dapper sprong gemaak en besluit om twee 6 000 liter-Eco-tenks aan te bring. Voor ek met 'n beskrywing van hierdie avontuur begin, moet ek iets sê oor 'n belangrike fout in die wyse waarop ons die ontwerp teenoor die kontantvloei van ons tuine benader.Dis 'n hoender-en-eier-scenario. Kom ons wees nou maar eerlik, wanneer ons ons huis bou of koop, draai ons elke sent om en benut ons hulpbronne optimaal. Ons plaas gereeld druk op die begroting! Met oordrag-, bou- en hervestigingskoste is dit bloot hoe dinge uitspeel. Dis eers as ons in ons nuwe huis is dat ons begin om enigiets buite die vier mure te oorweeg. Selfs al het ons dit al oorweeg om 'n paar nuwe tenks te installeer, bo- of ondergronds, het ons waarskynlik nie die kontant gehad om dit uit te voer nie. Ek bevind my nou in presies daardie situasie. Sowat tien jaar nadat my huis gebou is, gaar die klein tenkies wat ons in die tuin rond aangebring het, nie genoeg water op nie, en elke keer as dit reën, voel ek skuldig as ek R100-note uit die lig sien val en verdwyn!

Kom ons verstaan een ding egter goed: Dis 'n morsige werk om ondergrondse tenks te installeer, of jy dit nou doen voor jy intrek, of so waarlik, wanneer jy reeds daar woon, soos ons. Kruiptrekkers grawe die enorme gat en laaigrawe verwyder die grond, kubieke meters daarvan wat uit die gat uitkom en elders heen verplaas moet word. En natuurlik is jou tuin reeds gevestig, met pragtige gruispaadjies wat nou as hoofpad gebruik word vir kruiwaens wat modderige kleigrond aanry wat aan alles vasplak. Moenie praat van die vlekke nie! Kom jy agter ek hou hiervan? En dan om alles te kroon, nadat die gat gegrawe en die betonbasis sonder veel probleme voltooi is, gaan die sluise van die hemel oop net toe ons daardie Sondagmiddag klaarmaak. Die eindresultaat was 'n gat wat soos 'n swembad lyk met meer as twee voet water onderin. My loodgieter het my verseker dat dit binne 'n dag sou wegsak en dat alles steeds op dreef vir installasie sou wees. Ha – dit wil ek nog sien! Ons moes inderdaad die water uit die gat uitpomp en die modderlae afskraap om die betonbasis te vind waaraan ons twee dae lank so hard gewerk het. Dis egter 'n paar dae later en jy kan jou voorstel hoe verlig ek is dat die twee pragtige Eco-tenks uiteindelik op hul plek in die gat is. Die grond word nog teruggewerk, en my stres en kommer oor klein wolkinders wat daarin kan val, is amper verby.
Hoekom deel ek dus al my pyn met jou? Dis eenvoudig: Die beste is om die tenks aan te bring voor jy intrek en voor jy nog een graaf grond vir jou tuin omgewerk het. Tenkmaatskappye, glo ek, word 'n skouspelagtige sakegeleentheid aangebied: om kliënte die fasiliteite te bied om nou te installeer en mettertyd af te betaal. Ons almal het hierdie stelsels om water op te gaar ewe nodig as lopende water in ons huise. Ek wonder wie dit die eerste gaan aanbied.

Die tweede groot les om jou kommer te verminder is natuurlik om die tenks in die winter (in somerreënstreke) aan te bring. Ek het dit geweet, maar aai, ek kon net nie wag nie. Dus moes ek maar verlief neem en die gemors hanteer. Ek begryp dit!
Maar o aarde, ek is so opgewonde. Daar is nou plek vir 12 000 liter water wat net wag om deur die volgende reën opgevul te word, en dit alles is verniet!

Lekker tuinmaak,



 

 
  Magazines|New Magazines|Recently Listed|Members Zone|Competitions|Promotions|Get Listed|A-Z Rate Cards|Publishers|About Us|FAQ / Help|Contact Us|Site Map
Privacy| Disclaimer| Publisher's Login| Press Rooms
Copyright Magazines.co.za by Showcase Media TM